Honderd en vyf oudsoldate en ouddienspligtes het in 2018 na Angola gereis op die ou paaie van slagvelde en gevegte. Dié toer is aangebied deur 61 Gemeganiseerde Bataljon se Militêre Veteranevereniging. Baie van die mans wroeg al vir jare oor die hartseer en pyn wat hulle as jong seuns ervaar het. Skaars 18 en 19 jaar oud, en hulle moes gaan veg, die dood in die oë staar en ‘n vyand doodmaak. Nog ‘n belangrike rede hoekom sommige op die toer gekom het, was om te gaan soek na Luitenant Muller Meiring se Ratel 72, iewers in die bosse in Angola. Muller se Ratel is op 27 Junie 1988 klaarblyklik deur ’n RPG-vuurpyl getref tydens ‘n dramatiese hinderlaag. Sewe van sy oudmakkers het spesiaal gekom om na die slagveld te kom kyk waar hulle geveg het. Kobus Rudolph praat met Muller se ma, Suzanne Meiring, wat vertel van die geweldige skok, hartseer en trauma. Die Meirings het hulle familieplaas in Verkeerdevlei buite Bloemfontein verkoop, en na Australië verhuis. Hy praat ook met Daniel Potgieter, wat die kanonier op die Ratel was. Hy het langs Muller Meiring gesit toe die vuurpyl hulle tydens die hinderlaag getref het.