RSG plaas in Mandelamaand die kollig op die werk wat welsynsorganisasies en sorgsentrums doen, en hulle behoeftes. Attie Heyns is 'n direkteur by KJH Law in Ceres. Hy is 'n passievolle langafstandatleet, iemand vir wie hardloop nie net 'n stokperdjie is nie, maar 'n lewenstyl en 'n manier om homself te toets. Op 31 Julie 2026 sal Attie die Washie 100 Miler aanpak, een van Suid-Afrika se mees uitdagende ultramarathons. Hierdie 160 kilometer lange roete strek van Cathcart in die Oos-Kaap tot by Oos-Londen en vereis maande se voorbereiding, opoffering en uiterste deursettingsvermoë. Vir Attie gaan dit oor meer as 'n wedloop. Dit gaan oor mense. Dit gaan oor teruggee. Dit gaan oor die bejaardes in Ceres wat hul lewe gewy het aan die opbou van hulle gemeenskappe en wat nou sorg en ondersteuning nodig het. Huis PJ Strauss en Huis Maudie Kriel is tehuise wat Attie na aan die hart lê, en hy het besluit om sy passie vir hardloop te gebruik om iets tasbaars vir hierdie inwoners te doen. Die doel van die veldtog is om R50 000 in te samel vir Huis PJ Strauss en Huis Maudie Kriel in Ceres. Vir anonieme skenkings kan individue 'n e-pos stuur aan jacques@kjhlaw.co.za of gaan na https://www.backabuddy.co.za/campaign/100-myl-vir-huis-pj-strauss-huis-maudie-kriel

RSG Help Plus: Pensionaris soek hulp met reiskoste en verblyf vir bestraling
01:42

Kuns met kontant: Riaan Cruywagen (Deel 1)
09:16

RSG Help Plus: ID-Help Fisantekraal
02:12