Die toekoms van 16% van Suid-Afrika en 8% van die wêreld se witrenoster-bevolking is in die weegskaal nadat ‘n veiling om 2000 van dié diere te verkoop, misluk het. Die renosterboer, John Hume, is die eienaar van dié 2000 renosters, wat van hom die grootste private eienaar van renosters in die wêreld maak. Na raming besit hy min of meer dieselfde hoeveelheid wit renosters as die totale bevolking van dié spesie wat in die Krugerwildtuin oor is. Volgens die 81-jarige Hume kan hy dit nie meer bekostig om die renosters veilig te hou nie, aangesien dit hom ‘n reusagtige R54 miljoen per jaar kos. Geen koper wou die $10 miljoen-reserweprys opdok vir die renosters, en die 8500 hektaar waarop hulle wei nie. Hume het gesê hy sal later vandag ‘n aankondiging maak oor die toekoms van die 2000 diere. Om hieroor te gesels, sluit dr. Jane Wiltshire, ‘n genoot aan die Universiteit Stellenbosch se Ekonomiese instituut vir Afrikanatuurlewe, by ons aan.