16 Desember is Versoeningsdag in Suid-Afrika. Vandag word hierdie dag gedenk terwyl mense maar taamlik depressief is oor watter fase beurtkrag ons in is, en hoe sterk president Cyril Ramaphosa sal staan ná die naweek se ANC-konferensie. En met dié is versoening dalk nie die eerste ding waaraan baie mense dink nie. Die dag het voorheen bekend gestaan as Geloftedag, en nog langer gelede was dit Dingaansdag. Hoewel die tema van versoening eers in 1994 by 16 Desember gevoeg is, was versoening eintlik nogal altyd ‘n groot tema in Suid-Afrika, selfs met die vorming van een land uit die voormalige kolonies in 1910 tot die Unie van Suid-Afrika. Ons het in die SAUK se klankargief gaan soek na die verskillende maniere hoe die tema van versoening en 16 Desember oor die 85 jaar van Afrikaanse radio oor die luggolwe uitgesaai is.