President Cyril Ramaphosa ontmoet Donald Trump later vandag by die Withuis in ’n poging om diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en die VSA te herstel. Maar dis nie net die gesprekke agter geslote deure wat opslae maak nie. Die eerste groep van 49 wit Suid-Afrikaners het reeds in die VSA aangekom. Hulle is amptelik as vlugtelinge deur die Amerikaanse regering geklassifiseer, en nóg groepe is glo op pad daarheen. Mense reageer steeds met satire, memes en ’n nuwe slagspreuk: “The Great Tsek” – ’n sarkastiese verwysing na die Groot Trek en die Afrikaanse woord, voetsek, herverpak vir ’n digitale era en politieke konteks. Wat verklap dié soort reaksie oor ons samelewing se senuwees, ons geskiedenis en die manier waarop mense vandag sin probeer maak van komplekse sosiale spanning? Ons praat hieroor met die sosioloog, professor Andries Bezuidenhout, verbonde aan die Universiteit van Fort Hare in Alice in die Oos-Kaap.