Weet jy dat die eerste geskrewe vorm van Afrikaans nie in die Latynse alfabet was nie, maar in Arabiese skrif? En dat Afrikaans vir dekades die taal van die moskee was – met preke, liefdesbriewe en selfs inkopielyste in Kaapse Moslemgemeenskappe wat alles in Afrikaans geskryf is, maar met Arabiese letters? Dis ’n geskiedenis wat lank onderdruk is, want onder apartheid is ons vertel Afrikaans is ’n wit taal, geskep deur taalvaders met lang baarde en nog langer agendas. Die joernalis Charles Leonard het pas die Sikuvile-prys gewen vir ‘n artikel oor die Islamitiese wortels van Afrikaans.