In hierdie aangrypende episode gesels Elsje van Jaarsveld met Adine Roode, die vrou agter HERD (Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development), Suid-Afrika se eerste toegewyde olifant-weeshuis. Sy neem ons na die olifantkalwers wat sy red, versorg en weer integreer in ‘n olifanttrop om hulle eie saamgestelde gesin te vorm. Hierdie kalfies is wees gelaat weens stroping en konflik tussen mens en dier. Die ouer olifantkoeie wat ook as wesies by die Olifant-weeshuis aangekom het, maak hierdie kalfies groot as hulle eie. Deur stories soos dié van die albino-olifant, Khanyisa, ontdek ons die diep verbintenis, rou en herstel wat hierdie merkwaardige diere ervaar.