Ma’s vir Wellington is ’n nie-winsgewende organisasie wat sedert 2007 ’n lewensbelangrike rol in die Wellington-gemeenskap speel. Hulle fokus op kwesbare kinders, gesinne, vroue en volwassenes met intellektuele gestremdhede. In een van die buitewyke het hulle ’n kleuterskool, wat nie net basiese opvoeding bied nie, maar ook die nodige voeding, eerstehulpleiding, en sosiale intervensie. Boonop bied hulle drie dae per week 'n oppasdiens en verskeie aktiwiteite vir volwassenes met gestremdhede uit die gemeenskap. ’n Ander kerninisiatief is die Bybelstudiegroep wat saam met die ma’s van die kleuters gereël word om nie net hulle kinders se holistiese groei te ondersteun nie, maar ook die ma’s se geestelike en emosionele lewe te verryk. Ma’s vir Wellington bedien tans sowat 155 huishoudings in Carterville, Weltevrede, Van Wyksvlei, Hillcrest, New Rest en ander dele van Wellington.