Die Pool, Jerzy Koch, is 'n vertaler, digter, akademikus en hoof van die Afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies by die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan. Hy is ook die skrywer van 'n omvattende literatuurgeskiedenis oor Afrikaans. Hy besoek Suid-Afrika gereeld sedert 1992, en het die Afrikaanse taal sodanig sy eie gemaak dat hy dit vlot praat en gedigte daarin skryf. Hy gesels oor en lees gedigte voor uit sy nuwe digbundel, Pleks van plaas, en hy lees ook 'n paar ongepubliseerde gedigte voor. Pleks van plaas is 'n versameling unieke gedigte oor plekke (in Europa en Suid-Afrika) en verplasings tussen kontinente, soos beleef deur die poliglot Jerzy Koch.