Marion Holm het Suid-Afrikaners al dekades lank laat lag – as aktrise, komediant, skrywer, regisseur en meester van die eenvrouvertoning. Maar agter die humor en die bekende gesig skuil ook ’n vrou wat weet van onsekerheid, van self werk skep, van ernstige siekte, en van telkens weer jou eie “grasHolm” gaan soek wanneer die silwer randjie nie vanself verskyn nie. Wat dié gesprek vir Henco met 'n C besonder spesiaal maak, is dat Marion self ’n groot aanhanger van Kuns met Kontant is. Sy luister, sy onthou – en sy kan finansiële lesse herroep wat sy deur die jare uit gesprekke met ander gaste op die program saamgeneem en in haar eie lewe toegepas het. In hierdie gesprek draai die rolle dus amper om: ’n gereelde luisteraar word die gas. Ons praat oor die geld agter ’n lewe in die kunste, die moed om jou eie werk te skep, die verskil tussen bekend wees en suksesvol wees, haar verhouding met geld ná groot lewensuitdagings – en waarom dankbaarheid soms die belangrikste maatstaf van rykdom is.