Deel 1: Aktrise Kim Cloete se reis na binne is iets wat sy in 2025 wil prioritiseer. "Ek wil vanjaar meer toegewyd tot selfontdekking en selfliefde wees." Kim sê al woon sy in Johannesburg, is haar maatskappy in die Kaap, dus reis sy die meeste van die tyd tussen die twee stede. Haar huis, man en honde is in Johannesburg, maar haar ma, broer en res van haar familie is in die Kaap. Kim het heelwat seer wat sy met haar saamdra, maar ondanks dit gaan dit altyd goed met dié borrelende aktrise. Sy glo sy raak mense aan deur net te glimlag, veral omdat posttraumatiese stres 'n konsep is waarmee sy heel bekend is. Kim het in Bonteheuwel in Kaapstad grootgeword, en beskryf haar kinderjare as baie moeilik. Sy weet wat dit is om met die minimum in die lewe oor die weg te kom, maar glo onomwonde in die krag wat woorde dra en hoe dit wat jy spreek en waaraan jy jou energie wy, 'n kantelpunt na welvaart en voorspoed in jou lewe kan teweegbring.