Deel 1: As boorling van Hankey in die Oos-Kaap, was die idee van 'n loopbaan as voltydse komediant 'n verre droom, maar 'n Marc Lottering-vertoning in sy studentedae het volgens Alfred Adriaan alles vir hom verander. Wanneer dit by goeie humor kom, glo dié aanbieder en grapjas die grappe moet eg en geloofwaardig wees, en 'n vloekwoord is nie 'n punchline nie. Hy raak ook nie aan slaapkamerstories, politiek of geloof nie. "My ma het my nie so grootgemaak nie, en ek vind daardie onderwerpe boonop nie snaaks nie. Daar is so baie ander dinge, veral in Suid-Afrika, waaroor ons saam kan lag en spot," vertel hy. Diegene wat hom nie van die verhoog of televisie ken nie, het heel moontlik al Alfred se skreeusnaakse video's op sosiale media teëgekom. Met talle suksesvolle plaaslike en buitelandse produksies en toere, én meer as 100 000 volgelinge op sosiale media, is dit moeilik om te dink dat die grapmaker nie té lank terug gesukkel het om gehore van 40 mense te lok nie. Met 'n B.Com-bemarkingsgraad het hy jare lank vir verskeie groot name in die verbruikersgoederebedryf gewerk. Tussendeur het hy die waters van televisiewerk en reklame getoets, maar die uiteindelike waagstuk om sy korporatiewe pos én goeie salaris vir sy droom van komedie prys te gee, sou eers later in 2018 gebeur toe dinge in sy guns begin swaai. Die hordes kykers wat weens die Covid-19-pandemie na hulle fone vir vermaak gedryf is, het die finale kersie op die koek geplaas. Hoewel hy geen voornemende komediant ontmoedig nie, waarsku hy dat sukses op sosialemediaplatforms nie alleen genoeg is om kos op die tafel te sit nie. Jy moet jou op verhoogwerk toespits.