Aan die voet van die mees suidelike bergreeks in Afrika, bewerk en versorg ‘n groep werkers al dekades lank grond en wingerde in die bekroonde Overbergse wynstreek. Nóú is die werkers van Akkedisberg Boerdery die trotse eienaars van ‘n eie handelsmerk én storie. Onder leiding van hulle mentor, Josef Dreyer, en hul twee direkteure, Mariette Moos en Christel Moses, stel Akkedisberg se trotse groep mans en vroue nou hulle eerste vatverouderde Southern Treasures Pinotage 2021 bekend. Dis gemaak van druiwe uit hulle eie wingerde.