Mens maak dikwels die fout om te dink bedrog gebeur net agter die skerms. Dis egter dikwels sommer hier voor ons oë: van koffiewinkels tot inkopiesentrums. Die Suid-Afrikaanse Bank Risiko-inligtingsentrum sê byna twee derdes van alle aangemelde bankbedrogsake is nie tegnies nie, maar sosiale manipulasie: mense wat jou vertroue wen met ’n glimlag, ’n uniform of ’n gratis koopbewys. Ons hoor by twee van Capitec se kenners hoe jy gevaarligte kan herken. Hulle is Jean Rossouw, die bank se hoof van finansiële geletterdheid, en Nick Harris, die hoof van die afdeling wat op finansiële misdaad fokus.