195 Renosters is tussen Januarie en Junie vanjaar in Suid-Afrika gestroop. Dis ongeveer een renoster per dag. 420 Renosters is in 2024 regoor Suid-Afrika gestroop. Die Kruger Nasionale Park was tot 2021 die grootste brandpunt vir renosterstopery, maar nou vind meer stropery in Kwazulu-Natal plaas, veral in die Hluhluwe-iMfolozi park. Honde word sedert 2012 aktief gebruik om renosterstropers in die wildtuin op te spoor. Die Belgiese Herdershond, Killer, het in sy leeftyd gesorg vir 200 arrestasies van stropers. Killer is in België gebore, waar hy as snuffelhond saam met die owerheid gewerk het om springstof uit te snuffel. Hy was só suksesvol dat misdadigers hom wou doodmaak. Sy hanteerders het gevrees vir sy veiligheid, en besluit om hom as deel van ‘n uitruilprogram Suid-Afrika toe te stuur om renosterstropers op te spoor. In hierdie week se Dieremaniere, ‘n RSG-bekbasaar-potgooi, praat Elsje van Jaarsveld met Thys Kleyn van die Genesis K9-groep oor hoe Duitse Herdershonde en die Doberman-Bloedhond-kruising opgelei word om diens te doen in die wildtuin.