Debora en Esegiël is geskok om te sien hoe verflenter Simon se klere is, en hoe bebloed sy gesig en kneukels is. Hy sê 'n paar kwaaddoeners het hom langs die Kedron probeer oorval. Esegiël wil weet wat Simon dink van Josef van Arimatea se storie dat Lasarus uit die dood opgewek is, maar Simon maak dit af as bogtery. Nadat Esegiël gaan slaap het, erken Simon egter aan Debora dat hy in Betanië was en dat hy moet toegee: die Nasarener het Lasarus opgewek. Hy glo die God van Israel het die timmerman gebruik om aan die volk te bewys dat Hy hulle nog nie verlaat het nie. Maar dit maak nie van die Nasarener die Christus, die ware Messias nie!