Banze Mutonkole is Kongolees, en wou van kleins af 'n danser word. Sy en haar gesin het na Van Rhynsdorp getrek uit hul tuisland, nadat haar pa daar 'n werk gekry het. Hier kon sy nie Engels of Afrikaans praat of verstaan nie, en binne 12 jaar het sy beide tale aangeleer. Sy is na dese 'n knap danser, en met die hulp van barmhartige Samaritane kon sy uiteindelik by 'n Kaapse kampus gaan studeer, waar sy nou haar eie potjie krap sonder haar ouers (hulle woon steeds op Van Rhynsdorp). Sy vertel haar storie in Afrikaans, en dat sy steeds, in weerwil van moeilike omstandighede, groot drome koester om eendag in New York te gaan dans.