Drie vriende en hulle jong bestuurder vertrek op ‘n reis na die dorpie Askam. Dit blyk nie net ‘n gewone reis te wees nie, maar ook ‘n ontdekkingsreis, ‘n reis na self, na identiteit en aanvaarding. Boeta, Benji, Lulu en Paul bied ʼn vertoning aan, wat dit waag om die ander sy van menswees uit te beeld vir ʼn konserwatiewe landelike gehoor. Ten spyte van veral Boeta en Paul se kommer, is die vertoning ʼn reuse sukses, en is daar ook sprake van vergifnis en herstel van ʼn onseker verhouding tussen Boeta en sy weerbarstige pa, Ruben. Die spelers is Dean Balie, André Samuels, Wessel Pretorius, Eben Genis, Susanne Beyers en Royston Stoffels. Joanie Combrink het die regie behartig. Die drama is as die algehele wenner aangewys in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.